Weer 100% vir GLA Matrieks

matrics 2017Vir die vyfde agtereenvolgende jaar behaal Global Leadership Academy se matrieks ‘n 100% slaagsyfer! Soos die afgelope 4 jaar die geval was, het die dux-leerder, Matthew Askew, weer 7 onderskeidings in al sy vakke behaal. Die vakke is Afrikaans, Engels, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Rekeningkunde, Ingenieursgrafika en Ontwerp en Lewensoriëntering. Matthew gaan vanjaar ‘n sendingreis onderneem saam met Global Challenge Expeditions en beoog om daarna `n ingenieurskursus te volg.

5 Leerders het ‘n A-gemiddelde simbool behaal. Die leerders is Matthew, Retief Williams, Annabelle Hift, Tamanique de Meillon en Keanu Horn.

Daar was 54 onderskeidings in die klas. 34 uit die 44 leerders het vrystelling behaal om graadkursusse te doen en 10 leerders diplomakursusse. Geen leerder het slegs ‘n senior sertifikaat verwerf nie. Die matriekklas was dan ook die eerste klas wat die voorreg gehad het om hul matriekeksamen in die nuwe, ultra-moderne skoolgebou in Outeniqua-rylaan te kon skryf. Feitlik die hele Jeffreysbaai het gehelp om die skoolgebou gereed te kry dat hulle hul rekord- en eindeksamen op die nuwe eko-kampus kon aflê. Die personeel en beheerliggaam van GLA wens al die matrieks van 2016 alle voorspoed toe met hulle toekomstige ondernemings.